call us: +27 21 914-1840

Nywerheidsektor gesond

09 / 04 / 2008

DIE kommersiële en nywerheid-eiendomsektor in die Tygerberg presteer tans steeds ondanks die kragkrisis, terwyl aanduidings is dat die residensiële mark sy huidige sywaartse momentum in 2008 kan oorkom en ’n nuwe oplewing kan wink.

Volgens mnr. Stefanus Malherbe, voorsitter van die Tygervalleise prokureursfirma MHI, het Suid-Afrika ’n vertraagde reaksie van twee jaar ten opsigte van die nywerheid- en kommersiële eiendomsektor teenoor die residensiële bedryf.

Dit veroorsaak dat die gunstige omstandighede wat in die nywerheid- en kommersiële sektor ervaar word, bloot vertraagde nabootsings is van dit wat twee jaar vroeër in die residensiële mark gebeur het. Malherbe meen dus dat die oplewing in die kommersiële en nywerheidsektor nog langer as ’n jaar kan voortduur.

Volgens mnr. Tommy Ljubicic, mede-eienaar van TAG Properties, gaan dit tans baie goed in nywerheidseiendomme in die noordelike stads?gebiede.

Sowat twee weke gelede is 77 erwe (10 ha) nywerheidserwe in die omgewing van die Bottelary-pad langs die R300 van die hand gesit teen R1 500 per m². Dis binne twee dae opgeraap en dubbeld soveel kopers het belanggestel as die aantal erwe wat beskikbaar was.

“Ons het binne drie dae opgehou met ons bemarking,” het Ljubicic gesê.

Mnr. Pieter-Jozua Erasmus, mede-direkteur van Capitol Commercial Properties, sê die leegstaan-faktor van kantore in die Tygervallei-omgewing is tans 4,7% – ’n aanduiding van oorwegend positiewe ekonomiese sentiment in hierdie gebied.

Malherbe sê die huidige residensiële tendense in die noordelike stadsgebiede is dat kopers ’n huis nie meer binne sowat 45 dae verkoop kry nie, maar eers binne sowat 90 dae.

Hy sê dit lyk of die beskikbaarheid van nuwe huise gaan afneem weens onder meer die tekort aan beskikbaarheid van elektrisiteitsvoorsiening.

Dit raak die aanbod van nuwe huise, wat kan lei tot ’n prysoplewing in die herverkoop van tweedehandse eiendomme.

“Dit lyk in die lig van die huidige ekonomiese aanwysers soos die hoër inflasiekoers van digby 9%, asook die krisis in elektrisiteitsvoorsiening, of die residensiële opbloei wat in die tweede kwartaal van 2008 verwag was, dalk nou eers vroeg in 2009 sy opwagting kan maak.”

Malherbe het bygevoeg dat die regering se aangekondigde belegging van meer as R400 miljard in infrastruktuur-projekte, asook ander investerings in die Wêreldbeker-sokkertoernooi van 2010, dié verwagte residensiële oplewing gaan stu.

Article courtesy of News24.com